Moondancer    
Home Calendar Favourites Help
Search   
My spore
BlogID: moondancer
Occupation: Gogga loerder
Location: Bloemfontein, South Africa
View Profile Details
My Links

MWEB
MWEB home page

Takingcharge
Hanging on by a fingertip

Ellemari
Love and Life

Maybe
A Second Chance

In die Maanlig.... -Coffee break!!
Syndication
Statistics
Entries (200)
Comments (3232)

.... 

Waar het ek jou verloor my kind....???

Hier sit ek nou alweer met rooigehuilde oe, ‘n sielewroeginge en ‘n magteloosheid waaraan ek niks kan doen nie.  En wat dit ookal is wat ek verkeerd gedoen het, wil ek so graag regmaak, as ek net kan weet wat dit is. Maar al probeer ek hoe positief die problem oordink en met jou te klankbord, het jy die vermoee, om my met een grommige veeg van die tafel af  te stamp en met ‘n deurklap plat te trap ,sodat daar niks van my moederlike wese oorbly nie.

Ek het gefaal.

Waar ek graag die  een sou wou wees wat jou vertroueling is en na wie toe jy moet kom as die lewe jou druk, kry ek elke keer net ‘n stywe lyf as ek jou probeer druk en ‘n afjak as ek jou oonskynlike gepynigde wese probeer ontrafel.

En as jou wese gepynig is, dan is myne ook aan flarde! Of weet jy nie dat ‘n Ma nie gelukkig kan wees as haar dogter met ‘n gebroke wese rondloop nie. Dalk weet jy nie dat ek vir jou lief is nie, dat  ek alles in my vermoee wil doen om jou gelukkig te sien nie. En vir ‘n lang ruk nou  het dit vir my gevoel asof  jy rus en geluk sou vind as jy dalk jou ruimte kan kry en beheer en dit het ek jou probeer bied, maar hoe langer hoe meer voel dit of ruimte jou net al verder laat wegdryf en kan ek nie help om aan jou te dink as een wat selfsugtig die toutjies trek, soos en wanneer jy voel jy behoefte aan nabyheid het en vir die res moet ek tevrede wees met ‘n lyfie wat se: los my uit!! ‘n Wegvlug van- enige moonlike oogkontak wat dalk  iewers met ‘n toevallige raakloop in die huis mag plaasvind. - ‘n groet wat dalk in ‘n gesprek kan ontaard .

Die deel van ‘n stille oomblik, waar woorde nie nodig is nie, bly ons ontwyk...

My kind, waar het ek jou verloor? Wat het ek jou aangedoen? Wat het ek nie vir jou gedoen nie? Ek probeer dan so hard om aan al jou behoeftes te voldoen... of is dit dalk waar ek die duiwel voer om ons vehouding te laat struikel. Moet ek jou voorregte ontse sodat jy maar kans kry om te gee?

Of is dit omdat ek nie vir jou ‘n pa ook kon wees toe jy dit die nodigste gehad het nie?

Ek weet jy het hom te vroeg verloor... en my hart bloei vir jou daaroor. Maar ek het ook...

En het ek dalk in my hartseer jou hartseer oor sy stille leemte ontken? En het my lewe wat later  begin hervat het, vir jou sy bestaan in ons kring verraai?

Hy het en sal altyd ‘n deel van my wese gevange hou, en ek verwag nie dat enige iemand anders in my lewe, sy plek in jou lewe moet oorneem nie. Ek weet niemand anders kan met soveel passie en vasberadenheid  elke krul op jou kop bewonder en tydig en ontydig aandring om een te soen nie. En net hy het geweet hoe om my en jou nukkerigheid die hoof te bied sonder om ‘n grimmige woord te spreek. Hy was ons spesiale lawwe name pa...  

Maar al wat ons het is herhinneringe en selfs dit kan ons  soveel te meer lewend hou as ons soms saam stilword, teruggryp en  onthou.

Vanjaar was my jaar van losmaak en laat gaan....  die motor, die huis en so baie dinge daarmee saam wat ons met hom gedeel het... Is dit dalk dit wat jou koue afkeur in my te weeg bring. Dis al ses jaar en ons moet aangaan. Kom vat liewer my hand sodat ons dit saam kan doen en vir mekaar behoue kan bly, as wat ons die afgrond tussen ons al groter laat word. Jy en Boeta, is al wat ek van hom oor kon hou wat ewigheidswaarde het, wat ek kosbaar ag en nooit wil verloor nie... nie totdat die Vader dit so beskik nie....

My kind, ek is lief vir jou, ek verlang na jou! Kom terug na my toe.... ek sal vir jou ook die vetgemaakte kalf laat slag....





Komunikasie....

 Die een groot belangrike aspek van mens se hele lewe. Of so glo ek dan nou maar! En ja, daar is baie maniere van kommunikeer, maar woorde bly maar nog altyd die een wat die minste verwarring in die aanhoorder se gemoed kan laat...

Dis nou te se as die woorde reg ingespan word en nie so ingeryg word dat dit een of ander verskuilde betekenis het wat jy as aanhoorder nog eers met ‘n geheimde kode moet vertaal nie... Dis nou as jy so gelukkig is om die sleutel van die geheime kode wat vir die spesiefieke woorde bedoel is,  iewers uit die spreker se spesiale wegsteekplek te kan opdiep en die regte sleutel vir die regte geleentheid te kan identifiseer. So ‘ on second thought’ kan woorde ook maar ‘n gebrekkige  stuk gereedskap vir kommunikasie  verteenwoordig, maar indien reg aangewend sonder verskuilde agendas en nuances, tog die beste wapen  wees wat ons teen miskomunikasie kan he....

 En ek is wonderlik geseend met ‘n paar mense in my lewe wat nie kan/ wil komunikeer met woorde nie, of dan nou nie met my nie, en in die vaste verwagting leef dat ek die psigiese vermoee het om hulle onuitgesproke gedagtes te kan absorbeer, verwerk en daaruit  moet kan aflei wat die motiewe vir hul aksies is... Iets soos, die feit dat hul  skouer nie regs nie maar links opgewip het toe hulle die deur toegeslaan het, moet vir my se dat hul agressie nie teenoor my nie maar na ‘n derde person, 10 km verwyderd ( die grade wat die skouer gelig het moet dit mos nou weerspieel) gerig is of  ‘n grom met die onderlip afgekrul en ‘n lyfie wat ‘n  stille stywe aura van -los my uit -uitstraal as ek ‘n onskuldige vraag vra, moet onmiddelik vir  my ‘n aanduiding wees dat  die person vir my baie lief is en  eintlik ‘n intense begeer te het om my ‘n stywe druk te gee, maar vir die volgende uur vas gevang gaan wees in ‘n intense innerlike gevegsessie om homself bietjie oor die kole te haal.... waaroor? Gin mens weet nie... ( maar ek moet mos nou die uitgestraalde vibe kan vertaal, of hoe dan nou??) Geen woorde nie... neeeeee, my reuksintuig moet mos nou goed genoeg wees om die ‘sent’ te kan optel van die bedoeling van die aksies....

En ja, omdat ek gewoontlik maar die een is wat kalm en gedwee al die mense sonder woorde in my bestaanskring se ‘sh!t’ moet absorber, vertaal en interpreter, mag ek dit nie waag om ‘n slag self vol daarvan te wees nie, want hulle het nog nooit geleer of eers probeer om my geheimde kode vir aksies en gebare te probeer soek nie!!!  Want ja, dit was nog selde nodig, want ek is geseend met woorde wat onomwonde kan vertel van presies hoe ek voel en wat ek wil he... maar meestal val dit seker ook op dowe ore, want as jy nie woorde kan spreek nie, kan jy dit seker ook nie hoor nie!!!

En dit dink ek is die groot wortel van alle kwaad in menige verhouding in ons alledaagse bestaan... Die gebrek aan woorde......

 





Vanmiddag het ek ervaar dat die totale hele onmeetlike heelal teen my is.

En hoekom?

Net omdat ek besluit het vandag is die dag wat los rafels wat orals deur my bestaan geweef le, bietjie reggesien moet word.

 Die dag het relatief goed begin, miskien omdat my bouer my liefies ingelig het  dat hulle die week gaan klaar maak.

Hoewel my bineste ‘n stille vreugdevolle gallop gegee het, het die rieele ekke baie goed besef dat daardie stelling nie ‘n kans het om waar te wees nie, want hoewel die groot goed alles nou redelik aangespreek is, hoef ek net een kyk om my te gee om te besef dat daar nog ‘n triljoen afwerkinkies is waaraan aandag gegee sal moet word, voordat ek my bouer finaal kan groet. Maar ek besluit toe dat ek maar vir die oomblik die vreugde sal koester en hom op die oog af sal laat dink dat ek hom glo... net so terwille van my eie selfbehoud ook.

By die kantoor aangekom, is dit ‘n aanhoudende in en uitstroom van studente wat nog vir oulaas hul lot wil kom probeer verbeter voordat die prediepunt toegeslaan word  en so groei daar so ‘n effense spatseltjie van ongeduld iewers ver weg in my agterkop omdat daar baie anner rafeltjies op my lessenaar rondle wat hulle longe stilweg uitskreeu vir my aandag.

Maar steeds bly my smaail breed en hoor ek elkeen se storie met oonskynlike geduld aan. Teen middagete het ek darem al so hier en daar ‘n rafel uitgetrek en afgerond, verstaan my mooi, nie soveel soos ek wou nie, maar met ‘n oop gemoed besluit ek dit was genoeg om voor dankbaar te wees.

En boonop is Woensdae, Ouma se kosmaakdag, waarop sy ons bederf met ‘n lekker gekookte middagmaal. En gistermiddag, het sy en hoofsaaklik getroue ou Maria, meeste van haar kombuisgoedjies oorgetrek na die nuwe plekkie wat ek in my huis vir haar ingerig het. Dit het beteken dat ons vir die eerste keer in 4 maande weer behoorlik om ‘n tafel kon sit en ons kos kon verorber en verteer sonder om iewers met een boud aan ‘n stoel wat iewers op ‘n ongemaklike hoekie tussen al die ander ongemaklike meubels ballanseer is,  te hang.

Die los rafels na middagete het behels dat ek my nuwe ID boek wat al van Junie maand af vir my le en wag wou gaan red uit Binnelandse sake se liaseerkabinette uit, voor hulle moed opgee en besluit ek bestaan nie meer nie. Ek het per slot van rekening al verskeie dreig smse gekry wat waarsku dat boekie dalk alweer op pad terug Petoors toe kan wees. En so het ek ookal ‘n week terug ‘n ‘n bank SMS gekry wat my maan om my nuwe kredietkaart by ‘n spesiefieke tak te gaan afhaal en ‘n poskantoorstrokie rafel  le al vir weke en wag dat ek  ‘n verassingspakkie daar moet gaan afhaal. Siende dat die meeste van die plekke  hulle nie op ‘n gereelde basis iewers langs my gebaande roetes bevind nie, wou ek alles sommer met een rond en bont ryery ‘n nekslag toedien.

Maar net toe ek my ryperd wou bestyg, kom die eentand oupa verfwer na my en my motor aangeskuifel en deel my mee dat die manne sê die plafonbord is op en daars nog groot gate wat toegemaak moet word. Irritasie metertjie se wysertjie roer ietwat ongeduldig die groen diep in. Die dak en plafon was nou die twee aspekke waar ek van profesionele kalante gebruik gemaak het om die hoeveelhede te beraam en beide die twee aspekte skyn of ‘n tekort of ‘n oorskot van material op te lewer.

Maar ek stap terug, gaan maak ‘n op die oog afberaming van wat nog kort en klim nou heel blymoedig terug in my ryperd en kies koers na binnelandse sake wat deesdae daar doer iewers ver in die township  gelee is, reeds opgegear om geduldig te wees want ons almal weet mos wat mens daar te wagte kan wees.  Verassing, daars ek tweede in die ry en tjoef tjaf is my groen boekie en ek verenig en is ek weer die trotse eienaar van ‘n identiteit. So, vol moed durf ek die pad boumateriaalplek toe aan. Gewoontlik is ek aan my eie lot oorgelaat om te dwaal en te soek na items wat my boudag kan maak of breek. Maar nee, vandag is daar ‘n wysneus omie ( SIES MD – hy het goed bedoel!!!!) wat vir alles wat ek wil he ‘n beter voorstel het van wat sal werk. Geduldig humour ek hom in die hoop dat hy sy eie koers mettertyd sal inslaan sodat ek my eie kop kan volg, maar nee, drentel sal hy drentel, totdat ek  hom naderhand moedeloos gedrentel het.

Volgende ‘n waagmoedige foonoproep huis toe om tervergeefs mates te probeer kry van afstande tussen balke en lentes van dakkappe. Die huisfoon word van een na die ander aangegee en die een verstaan minder wat ek wil he as die ander totdat my bediende my  einde ten laaste  meedeel dat hulle eers een van die ander geeste wat  more weer sy opwagting by die bou projek sal maak nodig het om vir hulle te kan meet. Teen die tyd is ek sommer al mooi moerig en intussen werk my selfoon ook in ‘n komplot teen my, deur  kort kort met ‘n irreterende piepgeluid te kenne te gee dat hy nou moet gelewe is. Dus bousending onafgehandel is die bank die volgende opsie, want per slot van rekening is hulle deurtjies net vir beperkte ure oop. So gaan ek deur die proses van parkeerpek soek deur, en  vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd sien ek weer die binnekant van ‘n bank.

Na 15 min van toustaan is ek uiteindelik aan die beurt, maar o wee – die beloofde kredietkaart kan nerens opgespoor word nie. Wat het die epos gese? Is ek seker ek is by die regte tak?  En toe ek triomfanklik die boodskappie vir hulle wil wys.... geen samewerking van my foontjie se kant af nie. Dis so al asof hy vir my tonguit steek en se;

 Jy wou mos vandag al die rafels uitsorteer en rafels mag nie binne ‘n dag uitgesorteer kan word nie so pe... ek is pap en gedaan! Kom ons kyk of hierdie bankmense jou gaan glo sonder my wyse woorde... en met die sit hy elke keer net mooi as ek die ‘message’ knoppie druk sy gesiggie af en laat my met ‘n gefrustreerde onbeantwoorde vraag.

Einde ten laaste begin ek toe wonder of hy nie dalk gese het ek moet dit by die poskantoor gaan afhaal nie en dit verklaar dalk die verrassings pakkie wat daar vir my le en wag... So poskantoor, hier kom ek, maar siende dat my kantoor tussen my huidige gps possisie en die poskantoor se geografiese ligging gelee is, besluit ek toe maar om die middag vaarwel toe te roep en sommer my goed op kantoor te gaan opraap en via die poskantoor huis toe te ry. By die poskantoor gekom ontdek ek dat die srtokie met die uitnodiging vir ‘n pakkie skoonveld is. Ek probeer toe maar kyk of ek nie iets daarsonder uitgerig kan kry nie, maar neeeeee, toonbank dame versker my dat daar heeltemal te veel pakkies is om sommer so bloots sonder ‘n strokie deur hulle te soek, en my aanbieding dat ek die soekwerk sal doen , haal my ‘n baie ongewensde gesigsuitdrukking van toonbankdame op die hals. So maar weer omdraai, met die besef dat die heelal vanmiddag teen my gekant is.

So van al die los rafels vir die mddag, is ek net een afgehandelde rafel,  ‘n klomp frustrasie  en die vooruitsig van nog ‘n losrafel middag wat iewers ingeruim sal moet word in die vooruitsig, ryker!

En ja.... nadat my selfoon se brein met ‘n bietjie krag beloon is vertoon hy toe wel ewe selfvoldaan per boodskap aan dat die kredietkaart wel veronderstel is om by die gegewe tak vir my te le en wag- dus sal die misterie van die onsigbare kaart nog verder ontrafel moet word, wat seker nog ‘n middag se tyd maan toe sal laat vlieg!!!

 





Na drie weke se holderstebolder heen en weer pendel tussen Bloem, en verskillende plekke met name soos Kokstad , Haga Haga, Southwell en Maclear  en ‘n tussenin  so hier en daar ‘n watertrapsessie gevul met ‘n gespook om studente iets geleer te kry  en die ander vele take wat op my lessenaar uitgestal le aan te pak, het ek uiteindelik ‘n skamele week van  Jan tuisbly se karretjie in die vooruitsig om na uit te sien.

Hoewel dit na die idiale bestaan klink om semi-permanent tussen gastehuise ronde te hang en so hier en daar ‘n seeuitsig te beurt te val, ontbyt te geniet sonder dat jy voor die stoof hoef te staan om dit aanmekaar te slaan en verder deur die onderskeie boeregenmeenskappe ge’treat’ te word, begin die gedagtes van tuis wees en die rus en vrede van jou eie bed te beleef mettertyd al meer aanloklik voel.

En ja, so jaag ek toe gistermiddag die ongeveer 600km huiswaarts om nog betyds vir die aanvang van die een jaareindgeselligheid na die ander met my teenwoordigheid te vereer, en koester so tussendeur die versigtig optimistiese vooruitsig van ‘n naweek by die huis, met net ek en my hond en katte en sus en ouma en so tussendeur my gewillige nutsman, RC. En daar wil so amper ‘n glimlag van genoegdoening om my mondhoeke vorm om die strak lyne gegiet deur die kners van tande om breek en bou en rondjaag stress te weerstaan, so effens te versag.

Maar o wee, toe ek vanoggend my uitgeputte oe uitvee, arriveer bouspan, geallokeer vir die inslaan van plafonne, voor my hek, en daar trek al my rus en vrede in ‘n rookwolkie die lug in!!!  So much for being home!  So ja, hier sit ek nou maar, met die ritme van kap en saag en goed wat val en ‘n gebrabbel in vreemde tale en vreemde gesiggies wat my doen en late gade slaan , eerder en blog voordat my gedagtes te ver na die negatiewe kant toe oorhel en my dag en naweek se donkerte laat toeneem.

Hoop julle Saterdag het meer vrede!!





Archives
November 2009 (2) | October 2009 (2) | September 2009 (5) | August 2009 (5) | July 2009 (6) | June 2009 (1) | May 2009 (4) | April 2009 (4) | February 2009 (9) | January 2009 (8) | December 2008 (13) | November 2008 (5) | October 2008 (1) | August 2008 (9) | July 2008 (6) | June 2008 (7) | May 2008 (5) | April 2008 (5) | March 2008 (6) | February 2008 (4) | January 2008 (1) | December 2007 (5) | November 2007 (11) | October 2007 (16) | September 2007 (4) | August 2007 (1) | July 2007 (6) | June 2007 (4) | January 2007 (1) | December 2006 (1) | November 2006 (7) | October 2006 (24) | September 2006 (8) | August 2006 (3) | July 2006 (1) |