MY KOP OP 'n BLOG - CASPER DE VRIES    
Home Favourites Help
Search   
My Links

MonkeyWorld
soos genoem in Aug blog

Casper de Vries
Amptelike WebSite

DIE STEM
Name: Casper
BlogID: diestem
Occupation: Wetter
Location: South Africa
View Profile Details
My Kop op 'n Blog
Syndication
Statistics
Entries (12)
Comments (257)


 
diestem.gif UJC.jpg

("MY  KOP OP 'n BLOG" word maandeliks geplaas in DIE STEM koerant wat in London gepubliseer en versprei word, en dit word hier "gestoor" as blogrekord)

Vet is ‘n gewigtige saak.

Ek kan jou eerlikwaar sê dat ek nooit regtig vet of oorgewig was as kind nie – alhoewel ek tog maar altyd ‘n kortgat was en dat shorties oor die algemeen baie vinnger vetrolle versamel. Tog het ek nie op skool rondgewaggel met daai ongesonde pokkelwange en wegsink-oë soos party obese kinders wat mens vandag sien nie. Selfs op universiteit en die res van my twintigerjare was my gewig lekker konstant en normaal. Die vet het my ingehaal toe ek oor my dertigdrumpel gestumble het. Vet weet. Toe verander my metabolisme in ‘n lui belhamel en begin my maag op ‘n gereelde grondslag staak. Skielik was daar ‘n boep en ‘n ekstra ken. Bly te kenne. En hulle het gekom om te bly.

Soos ek in my 1999 show, Toet & Taal,  gevra het: "Hoekom is dit was sleg is, goed vir ‘n mens, en hoekom is dit wat lekker is, sleg vir ‘n mens?" Dink net hoe blakend gesond ons almal sou wees as sjokolade, pizzas, chips en bier goed vir jou gestel was. Maar nou moet mens jou inhou met ‘n beteuterde slaaiblaar en ‘n skyfie tamatie. Eeeuw. Dink net hoe wonderlik dit sou gewees het as jou ma jou gedwing om eers jou wyn te drink en roomys te eet voor jy skool toe kon gaan!

Maar om goed te lyk moet jy harde bene kou. Nie hamburgers nie.

Ek praat al sedert 1998 in my vertonings oor my gewig – seker maar omdat dit my ongelukkig maak om so vet te wees. Toe ek in 2000 ‘n daadwerklike poging aangewend het om gewig te verloor, het 35 kg van my af weggesmelt en het ek soos ’n dun fairy uit Neverland gelyk. Maar toe praat mense my deurmekaar deur my te laat weet dat hulle my ronder verkies. Ongesondheid in die rondheid. Hoe swaarder hoe vermaerder, het hulle gesê! "Ons hou van jou vetter, Cassie!"

In daai eerste paar jaar het ek die vet weggehou deur carob te eet in plaas van sjokolade, weg te bly van take-aways en alkohol en ligte kossies soos vis en ontvelde hoender te verorber. Maar hier vanaf 2003 rond het my eetgewoontes ‘n serious dip gevat en het ek myself weer teruggevreet tot ‘n klein verShreklike ogre-tjie. Ek lees êrens op die web iemand skryf oor die April-show in London "Die show was lekker en ou Casper is vetter as ooit!" Dit is die (on)reine waarheid! Ek is inderdaad vetter as ooit. En dis nie lekker nie. Ek hou nie daarvan om soos ‘n ou seerowerskip te steun en kraak as ek net my skoene probeer aantrek nie. Of om net-net die veiligheidsgordel om my buidel te kan instrap op ‘n vliegtuig nie.

Toe hoor ek via vriende en kennisse van hierdie nuwe dokter van Oostenryk wat vir 20 jaar voedselgroepe, bloedtipes en vetselle bestudeer het. ‘n Plaaslike dokter het sy metodes uitprobeer, was geweldig geïmponeer daardeur en pas dit nou met groot sukses toe op vetties in Suid-Afrika. Ongelukkig is die ghoeroe van Oostenryk se naam Dr.Fanfack, so dis nie iemand wat jy sommer graag hardop aan ander mense in beskaafde geselskap wil voorstel nie, maar sy rewolusionêre formule van hoe om te eet, wanneer om te eet en veral wat om te eet, oorrompel tans die wêreld van die smulpape. Dis nie ‘n buitensporige manier van eet soos bv Atkins se vleis en proteine dieet nie. Na 4 weke van net vleis en eiers is jou pee oranje-groen soos die ‘n Bosveldleeu en voel jy effe ongebalanseerd. Hierdie eetwyse is gebaseer op gesonde verstand en die manier hoe jou lyf onsuiwerhede absorbeer en van vet ontslae raak.

Eers word jou bloed getrek en ontleed, en dan word ‘n spesiale persoonlike eetplan vir jou uitgewerk.

Volgens my bloedanalise het ek die lewer van ‘n 130 jarige Amalekiet en die suikervlak van ‘n bol spookasem. Dit het die dokter blykbaar nie ooglopend ontstel nie (alhoewel hy ‘n sigaret opgesteek het en ook aan my een aangebied het). Hy het aan my gesê dat hy vol vertroue is dat ek al my organe se funksionaliteit sal terugkry indien ek die nuwe eetregime volg. Ek mag nie aartappels eet nie. Ook nie rys nie. Weg is die wyntjie. Vort die nagereggies. Dis terug na sleg=goed en lekker=sleg. Ek gaan maar (weer) probeer. Wat het ek om te verloor?

 Ha ha ha. 30 kilogram.

Hiermee dus ‘n onderneming van my kant af om teen die einde van die jaar ten minste drie broekmate ligter te weeg. Indien ek vind dat ek soos ‘n komedie-weergawe van Simson my snaakskragte verloor wanneer ek maerder is, sal ek moet besluit tussen of ‘n DoubleCheeseBurger with bacon, egg and tjips of om my huidige beroep vaarwel te roep en tog maar ‘n Dominee te word soos ek altyd wou.

Ek hou julle op hoogte van enige verdere vet-wikkelinge!

Casper


BLERTSIE.jpg




JUNIE 

 
diestem.gif UJC.jpg

("MY  KOP OP 'n BLOG" word maandeliks geplaas in DIE STEM koerant wat in London gepubliseer en versprei word, en dit word hier "gestoor" as blogrekord)

Toe ek lees dat ons eie lugdiens diep in geldelike shi..uld is en dat daar nou ernstige veranderings in die infrastruktuur van die maatskappy gaan kom, het ek onwillekeurig teruggedink aan een van die walglikste vlugte wat ek ooit in my lewe gehad het, en dat dit op die einste redery was.

Ek praat nie nou van eksterne faktore soos turbulensie, wind of donderweer wat 'n vlug heel ongemaklik kan maak nie.

Die ergste wat ek ooit onder sulke omstandighede gevlieg het, was toe ons met British Airways in Johannesburg binne-in 'n storm opgestyg het. Mense, daai vliegtuig het só geruk en gepluk en geskud met die opstyg dat selfs ek begin bid het. Die enjins het geklink soos 'n reus wat sit en pattie stoot op die toilet, maar nie die ding kan uitkry nie. "Hinnnnnnnn...Uuuhhhinnnnn...Aaaaaaarrrrggnnnnn."

Verstaan jy?

"O Here, ons gaan sterf!" het iemand skielik gegil. Dit was die pilot.

Nee, grappie, dit was ek.

Gelukkig het ons daardie vlug oorleef en ek het belowe om nooit ooit weer tydens 'n storm in 'n vliegtuig te klim nie. Ook om in die vervolg altyd, maar altyd, 'n ekstra onderbroekie in te pak by my handbagasie.

Maar terug na my storie oor die walglike vliegervaring. Ek het gevlieg van Djoubêg na London en het besluit om myself te trakteer deur 'n stoel heel voor in die vliegtuig te bespreek. Ons praat nou van Blue Diamond Chip on the Shoulder Upperclass. Mens verwag natuurlik uitmuntende eg-Suid-Afrikaanse supergasvryheid as mens jou bepoeierde alie in daardie gedeelte van die vliegtuig gaan neerplak. Die personeelkorps wat ingedeel was om hierdie afdeling van die kajuit te beman, was klaarblyklik self nog nooit voor in 'n vliegtuig nie. Miskien was hulle nog nooit in 'n vliegtuig nie.Ek weet nie of hulle hul opleiding dalk oor die internet ontvang het of deur UNISA nie, maar hulle bekke het oopgehang terwyl hulle deur die vliegtuig gestrompel het.

Die een persoon wat wel gelyk het asof hy weet wat hy doen, was die Purser. Dis die hoofman oor honderd wat almal altyd welkom heet by die deur en oor die interkom aankondig dat as jy enige probleem het, jy dit nie hulle s'n moet maak nie.

Daar was twee ghêls wat ons kajuit moes bedien. Hulle het heeltyd soos gehipnotiseerde poedels agter die Purser aangeloop en verlore en bang gelyk. Dit was duidelik dat hulle nie 'n clue gehad het wat om te doen nie. Skielik fluister die purser geïrriteerd aan hulle in Xholu (dit was of Xhosa of Zulu, ek kon nie lekker hoor nie): "Pepha xhlobile i-toiletbags!!"

Toe hol die twee met groot oë êrens heen en keer triomfantelik terug met 'n toiletsakkie wat bestaan uit oorplugs, lipgloss, kouse en 'n tampon.

Ná 'n Xholu-aansporing deur die Purser, mompel een van die ghêls aan my: "Jy kan nou pis?"

Ek stamp 'n paar keer met my linkerhand agter my oor en vra: "Can you say that again please?"

Met die tweede probeerslag hoor ek iets anders: "Cannabis?"

"My magtag," dink ek, "hoe hoog wil hulle vanaand vlieg met ons?"

Erg verleë oor my skynbare skielike doofheid vra ek haar om asseblief stadig en hard vir my te ar-ti-ku-leer wat sy vir my wil sê.

"Canapés," kom dit uiteindelik uit.

A-ha! Dis daardie klein happies wat hulle by cocktailparties eet. Jy weet, goed soos gestoomde salmlippies op 'n sesamestafie, of kalfshol op rogbrood.

"No thanks!" sê ek toe maar beleefd, terwyl ek van voor af giggel vir "Jy kan nou pis".

Ons is in die lug en kos gaan bedien word.

Die waardin kom staan by my stoel en kyk die hele spul so op en af, en verklaar aan my: "I don't know how to get your tray out of the chair - this is my first time."

"Your first time?" vra ek, "ever on a plane?"

"No, in First Class," sê sy terwyl sy vroetel aan die knoppies en die TV s'n druk wat die monitor laat uitskiet en byna 'n glas water oor my laat omval.

Die Purser kom nadergehol en trap haar weer in Xholu uit terwyl hy die tray uithaal uit die stoel se armleuning.

"So sorry," sê hy.

"It's OK," sug ek.

"Hamba hlopile i-cutlery!" gil hy op haar.

Toe die etery klaar is en alle borde, koppies, vurke en plastiekmesse afgedek was, sit ek nog met my tray voor my sonder 'n teken van enige personeel om die kontrepsie weer terug te druk in die stoelleuning.

Mens kan daai tafeltjie nie eiehandig terugdruk in die stoel nie, tensy jy uit jou stoel opstaan en dit afforseer in die armleuning. Maar jy kan nie uit die stoel uitklim as die tafeltjie voor jou opgeslaan is nie. Mens is as't ware vasgevang in jou eie stoel.

Ek druk die hulpknoppie en ná 'n tydjie kom my meisie aangetrippel.

"I don't know how this thing works," sê sy weer.

"Maybe you should go ask the Purser," probeer ek van hulp wees.

Tien minute later. Nog geen teken van niemand nie en ek sit soos 'n aap op 'n raap met 'n moerse tray hier voor my.

Gelukkig kick my 2 jaar army-opleiding in en ek leopardcrawl onderdeur die tray uit my stoel en die vliegtuiggangetjie binne. Ek gaan loer onmiddellik agter die kombuisgordyntjies in om te sien waar my hulp vandaan gaan kom, en so waar as waaragtag, daar sit my ghêl lekker agteroor met 'n koppie tee en 'n Bona.

"What about my tray?" vra ek

"Okeeeeee," sê sy semi-geïrriteerd.

"And the bed?" voeg ek by.

Die waardinne is veronderstel om ná ete die passasiers se stoele plat te laat lê en dit op te maak met 'n laken, duvet en kussings.

"I don't know how the bed works. This is my first time," pleit sy weer.

Ek weet nie hoe de hel hierdie klomp op die vlug beland het nie, en of daar 'n personeeltekort was daardie dag nie, en of hulle mense van die straat af gepluk het om in te staan as waardesse nie, maar dit was 'n skandalige affêre!

Ek het my só geskaam, want my mede-passasiers was toeriste en ek kon nie glo hóé swak diens hulle ontvang het nie. Die meeste het maar self hulle bedjies probeer opmaak of uiteindelik sonder lakens opgekrul op hulle stoele. En dis nie hoe dit hoort nie! Nie vir die astronomiese prys wat mens betaal vir Eerste Klas nie.

Deur die loop van die nag het ek siedend en koorsig van woede 'n brief in my kop begin skryf vir die lugdiens waarin ek hulle vertel van hierdie hulpelose klomp ploeteraars op die vlug en watter ramp dit is vir die reputasie van ons lugdiens.

"Hope you had a nice flight!" sê die Purser by die deur met sy bolwangetjies en skitterwit tande toe ons by Heathrow uitklim.

"Jykanoupis" is ál wat ek kon sis.

'n Paar dae later vlieg ek terug Suid-Afrika toe. Selfde vliegtuig. Selfde klas. Nie dieselfde personeel nie.

En dit was een van die aangenaamste vlugte wat ek gehad het op enige lugredery. Ooit.

Om Johan Stemmet aan te haal: "Ek weet nie wat dit beteken nie, maar dit beteken iets."


SAA.jpg

S.A.L. ons ou kennisse ooit vergeet?





 

 
diestem.gif UJC.jpg

("MY  KOP OP 'n BLOG" word maandeliks geplaas in DIE STEM koerant wat in London gepubliseer en versprei word, en dit word hier "gestoor" as blogrekord)

2002 was die eerste jaar waarin ek 'n show gegee vir die Afrikaanse mense wat in London bly.

Ek het dit nie self gereël nie, maar ek het wel aan die organiseerder gevra (wie se naam ek nie wil noem nie omdat dit Abel Kraamsaal was), dat ek wil optree in 'n teater, en nie in 'n bar of restaurant nie.

Hy het 'n teater in Easton gebook vir twee shows en alles het lekker en goed geklink!

 

Ons het direk na my DiMensie show by die Ka Ka en Ka die vliegtuig vanaf George na Johannesburg gevat en toe vandaar weer onmiddellik na London gevlieg. As gevolg van die beskikbaarheid van die teater in Easton moes ek die dag wat ek geland het al klaar my eerste show daai selfde aand aanbied.

 

Ek en die crew was dus suf gereis en ons koppies het gesuis soos 'n shortwave radio!

 

Ons het egter almal klein blertsies in ons broekies gelos toe ons by die "teater" instap en besef dat dit die vergadersaal van 'n eienaardige kerkgroep was, en NIE 'n teater nie!

 

Easton, we've got a problem!

 

Arme Abel het onskuldig gepleit en gesê dat hy regtigwaar onder die indruk was dat dit 'n teater is.

Hy het dit ook nie vantevore gesien nie en die saal vanuit Suid-Afrika gereël. Ons het nogal ewe allerhande fancy ligte en rookmasjiene en special effects ingehuur vir hierdie vertonings, maar toe my crew die equipment begin opstel, het 'n maer opperpriester daar ingemarsjeer en ons skreeuend beveel om dit af te skakel en nie te gebruik op hulle heilige verhoog nie. 

 

Ek kon nie eers my moer strip en die shows cancel nie, want Abel het klaar soveel geld spandeer om ons daar te kry.  So ek moes maar op my tande byt en doen wat die hoofmonnik ons beveel het!

Dit was after all hulle sub-ekonomiese abdy waarin ons opgetree het!

 

En om alles te kroon verander die klooster se een gang daardie aand in 'n vlooimark vol stalletjies wat vetkoeke, kerrie & rys, bobotie en koeksisters verkoop. Dit was sonder my goedkeuring of kennis gereël deur iemand wat wou incash op my teenwoordigheid op die Eiland. Dit klink seker nou gesellig as mens van roosterkoeke en gemmierbier lees, maar op daardie stadium was ek onrealisties moeg en het my gruwelik vererg vir hierdie embarrassing poespas in die Engelse tempel. 

Wat 'n professionele teatershow moes wees, draai toe uit om 'n kerkbasaar te word!

 

Dis op daai oomblik wat besluit het om enige toekomstige shows in die UK self te organiseer.

 

In 2004, na 2 jaar se hipno-terapie, het ek gevoel die tyd was ryp om Snaaks Genoeg London toe te bring. Na 'n lang soektog vir 'n goeie, deeglike en professionele teater, het ek uiteindelik uitgekom by HRH Lord Sir Andrew Lloyd Webber OBE se R.U.T. teatergroep, wat  o.a. die London Palladium besit en verhuur.

 

Hulle deal ook nie sommer met enige Tom, Dick of Hendrik nie, en hulle wou eers deeglike agtergrondinformasie oor my gehad het.

"Google my, google my!" het ek parmantig gebiets toe hulle wou weet of ek bekend genoeg vir Suid-Afrikaners om na my te gaan kyk in London.

 

Opgekook en afgewater, om 'n lang storie nog langer te maak  - na 'n intensiewe agtergrondstudie is ek gewik en geweeg en swaar genoeg bevind om my pote te plaas oppie Palladium podium!

 

En die show was toe absoluut fun-tasties! Vir die eerste keer in die Palladium se geskiedenis klink Afrikaanse klanke op voor die twee en 'n half duisend gehoorlede.

Dit was so suksesvolle aand dat ek in 2005 My Wêreld ook Palladium toe gebring het, wat weereens 'n fees van 'n show was.

Vanjaar was ek my derde keer daar met Die Beste Medisyne.

Soos die non vir die biskop gesê het, die derde keer was die lekkerste keer!

Heerlijk, heerlijk!

 

Ek wil dit net baie duidelik stel dat ek in die London Palladium optree omdat ek die Suid-Afrikaners wil vermaak onder die beste van moontlike omstandigdhede. Ek het geen illusies om "beroemd" te word in Engeland nie, want ek praat in any case net Afrikaans in my vertonings. Ek is wat ek is - Afrikaans - en ek probeer my werk uitleef met standaarde wat on a par is met enige ander wêreldtaal en kultuur.

 

Ek weet ek bring iets uniek Suid-Afrikaans, en spesifiek Afrikaans, Engeland toe, iets wat mens nie daar kan kry of hoor of sien nie, en terselftertyd word ek beloon met ongelooflike gehore wat my elke keer laat besef dat ek iets kan beteken vir 'n paar duisend mense in 'n vreemde land.

 

My skrywe hierdie maand is dus 'n persoonlike love letter aan my gehoor van 22 April daar by die London Palladium.

 

Dankie dat julle my elke liewe keer op die hande dra en so ongelooflik entoesiaties ondersteun.

 

Cheers Mates...

Aai Laf Joe!!

 

 


 

gehoor1.jpg

 

gehoor2.jpg

 

stage.jpg

 

KYK HOE KYK JULLE VIR MY, KYK HOE KYK EK VIR JULLE!

 

audience2.jpg

 

 

 

 

 





 

 
 


diestem.gif UJC.jpg

("MY  KOP OP 'n BLOG" word maandeliks geplaas in DIE STEM koerant wat in London gepubliseer en versprei word, en dit word hier "gestoor" as blogrekord)

 

Lank lank gelede, toe ons wêreld nog jonk was, moes alle semi-normale blanke seuns aanmeld vir 2 jaar verpligte militêre diensplig. Die butch ghurls kon George toe gaan vir opleiding as hulle wou (maar onthou, dit was vrywillig). Soos ons weet, het die army-era nou plek gemaak vir die oorsese “2 jaar Bomdon” …

 

Onlangs het Koos Kombuis ou herinneringswonde en geheue-letsels oopgekrap toe hy geskryf het militêre diensplig moet dalk weer ingestel word as ‘n moontlike oplossing om die jeugdige leeglêende misdadigers te dissiplineer.

 

Dit laat my toe terugdink aan daardie walglike dag toe ek moes gaan aanmeld vir my 2 jaar militêre diens. Ek wou glad nie gaan nie. My maag het heeltyd gedraai soos ‘n Defy Automaid op ‘n spin cycle, omdat ek geweet het dat die army niks vir my gaan beteken nie, en dat ek niks vir die army gaan beteken nie. Ek kan eintlik die woord niks vervang met ‘n meer beskrywende woord wat rym met pokkol.

 

My voorgevoel was 100% korrek. 

 

Shame, my pa het my nog weggebring. Daar was ‘n versamelpunt net buite Pretoria waar alle ouers en kinders bymekaar gekom het, en dan bemoediging vir mekaar gesit en prewel het voordat die offisiere ons sou kom wegvat...

Ons het heeltyd senuweeagtig rondgekyk en geluidjies gemaak soos iemand wat alleen in ‘n lang, donker gang afstap. Daar was natuurlik een of twee van daai tipiese loudmouth belhamels wat luidkeels quotes uit Rambo geskree en onder die tafels deur ge-leopardcrawl het. Maar ek verstout my om te dink dat as mens ‘n bruin papiersakkie agter so ou se rug gebars het, hy ook maar hartlik in sy broek sou gepee het.

Uiteindelik het ‘n paar manne in uniform nader gestaan en ons van ons vaders en moeders geskei (deur ons gillend uit hul arms weg te skeur). Mens het net skoensole geruik soos wat hulle ons oor die teer gesleep het na die samels. (‘n Samel is ‘n armytrok waarin die troepe agterop in 2 reguit rye sit. Mens dra dan so snaakse groen dop op jou kop wat jou laat lyk soos een van daai insekte in A Bug’s Life.)

 

Ek het ‘n mentale blackout van wat daarna gebeur het. Waar ek weer onthou, is toe ons in pelotons gestaan het voor ‘n bungalow, met ‘n luitenant en ‘n korporaal (spreek uit “koppe-ral”) voor ons. My koppe-ral het my eenkant toe gevat en gevra of ek oukei is, want ek het vir hom “af” gelyk.  “Ek wil nie hier wees nie,” het ek hees geantwoord en skielik vir myself geklink soos ‘n probleemkind wie se Ritalin uitgewerk het.

Ek het gehoop hy gaan vir my sê: ''In daai geval, neem jou tas op en loop.''

Toe nie.

“Sien jy daai f@kken boom!?”

In army-taal beteken dit jy moet na die aangewysde boom hardloop en dan weer flink terugrapporteer aan jou bevelvoerder. Ek het egter toe nog nie hierdie etiket so goed onder die knie gehad nie, en dus toe my koppe-ral sy vraag “Sien jy daai f@kken boom?!” herhaal, het ek vriendelik geantwoord: “Natuurlik! My oë is fine. Dis ‘n Diospyros mespiliformis, beter bekend as die Jakkalsbos.”

 

Hierna volg weer ‘n tydelike blackout waarvan ek nie veel kan onthou nie.

 

Ek onthou wel die eerste dag toe ons moes aantree vir ‘n skietoefening. My geweer was só swaar dat ek dit agter my aangesleep het. Dit het my wankelrige verhouding met Koppe-ral verder versuur.

“Hanteer haar versigtig... jou geweer is jou vrou!” het hy gebulder.

“In daai geval, kan ek liewer ‘n Marchetti kry?” het ek ordentlik gevra.

“Ek steek eerder as wat ek skiet.”

 Ek onthou Koppe-ral se bultende nekare nog soos gister.

 

Maar skiet moes ek skiet. Ek het gaan lê (by vroulief/geweer) en tussen haar mikke gekorrel na die teiken teen die heuwel. Ná 10 skote was my sleutelbeen weg.

En ek het NUL gescore. Een groot ronde embarraserende NUL.

 

Koppe-ral het my met ‘n wrang uitdrukking gevra:Kan jy darem IETS doen in die lewe, De Vries?”

Toe ek wou antwoord, snou hy verder:” Weet jy wat? Ek is so bly ek is nie jy nie!”

Daardie woorde was seker bedoel om my te wond, maar ek het net geglimlag terwyl ek gedink het: “Jy weet twat? Ek is weer so bly ek is nie jy nie!”

 

Nadat die basiese opleiding verby was, is ons uitgeplaas na allerhande administratiewe departemente. Julle kan so bly wees ek is nie Grens toe gestuur nie, want dan was Kaapstad nou Little Havana.

Anyway, met ons uitpasseringsparade sê Koppe-ral in sy speech ons moet onthou dat die army altyd die belangrikste deel van ons lewe sal bly, en dat ons tot en met ons afsterwe opgeroep sal kan word vir kampe.

Ek wys nog elke keer ‘n lekker ou vet figuurlike toffie vir hom as ek aan daai woorde terugdink.

 

Die eienaardigste ding is dat ek met nostalgie vervul word elke keer wanneer ek een van my ex-army buddies raakloop. Ek het al selfs by sommige van hulle aan huis gaan kuier of eet. Dis seker maar wat Callie en Monique ook doen met hul mede-Filippyne.

 

Voor ons verdaag, wil ek net aan my liewe ou ex Koppe-ral, waar hy ookal vandag mag wees, die volgende sê : ek het toe waaragtag iets met my lewe gedoen! Jou opleiding het vrugte afgewerp. Nie net steek ek nog steeds (die draak) nie, maar na al hierdie lange jare skiet ek ook gereeld!

 

Spek natuurlik.

 

En ek het tot nou toe nog nooit ‘n NUL daarvoor gekry nie!

 

Tot volgende keer ...

 

Super Troeper De Vries

 


CenVklein.jpg

 

Vader en Seun net voor die Army-tyd (1986)

PS-(ek hou 'n kat vas)

PPS-(ja, dis 'n byl op die stomp skuins agter my, maar dit het niks met die kat uit te waai nie)

 

Armykl.jpg

 

Troepie Poepie (1987)


 





 

diestem.gif UJC.jpg

("MY KOP OP 'n BLOG" word maandeliks geplaas in DIE STEM koerant wat in London gepubliseer en versprei word, en dit word hier "gestoor" as blogrekord)

 

Picture this... Johannesburg.

Oktober.

2006.

 

Vriende uit London kuier by my. Een wil sien hoe die nuwe Afrikaanse musiekkanaal MK89 lyk. Ek skakel oor en ons bevind ons skielik in ‘n loopgraaf langs ‘n jong bebloede man met ‘n wapperende vierkleur.

"Wat de hel is dit hierdie?"

Dit klink soos 'n dodemars.

"De la Rey De la Rey…." begin die ou sing "sal jy die Boere kom lei?"

"Neeeeeeeeee!" gil ek.

Ons bly gehipnotiseerd kyk terwyl daar elke nou en dan kliphard gelag word vir hierdie eienaardige musiekvideo wat lyk soos iets tussen ‘n low-budget "Arende" en ‘n send-up van "Dawn of the Dead" .

 

‘n Paar dae later sien ek Sean Else by ‘n MNET-funksie. Ek wens hom geluk met sy rol as Idols-aanbieder en vra hom wat alle kunstenaars maar altyd vir mekaar vra: "So waaraan werk jy nou?"

"Ek en Johan Vorster het ‘n company begin en ons eerste CD is uit!" sê hy trots. "Dis Bok van Blerk se CD"

"Bok? Wie’s dit?" blêr ek.

"De la Rey" sê Sean.

"Daai ou in die loopgrawe?" proes ek "het julle daai CD gemaak?!"

 "Ja, en die song geskryf" sê Sean, "en dit doen nie te sleg nie, hoor!"

 

'n Maand later, in Amsterdam, vertel ek vir die mense by my show van hierdie liedjie. Ek speel vir hulle ‘n paar strofes. Geen Suid-Afrikaner daar ken dit nog nie. Ek spot selfs dat ek dink Bok gaan sukkel om ‘n opvolg te maak. Oor wie gaan hy volgende sing?

 

O Jan Smuts O Jan Smuts

Sal jy vir Thabo kom klits

En Verwoerd O Verwoerd

Sal jy vir Zuma laat skoert

 

"Jy moet sien hoe dit by die shows gaan" vertel Conrad vir my. Hy doen Bok se klank.
"Mense staan sommer op as die song begin, met vuiste gebal en hand op die hart"

"Solank hulle net nie met vuis gehard en hand op die bal staan nie" probeer ek snaaks wees.

 

Nou fast forward ons na vandag. 140 000 CDs later. Soos jy gesê het Sean, "nie te sleg nie"!

Nie te sleg nie, inder-flippen-daad! Julle gallop seker al die pad bank toe!

 

Mooi so!

 

En die mense is histeries!

 

Daar is ‘n nuwe vlaag patriotisme, skryf die Afrikaanse pers. Mense staan met hoendervleis en semi-ereksies en wapper die vlae van die verlede op die maat van ‘n nuwe anthem. Of is dit iets wat mens eerder "retro-ïsme" as patriotisme wil noem - die tydelike versugting van ‘n klomp regses wat terugverlang na die goeie ou tyd van Apart-Hate, pasboeke en noodtoestande?

 

Laat ons nou maar eerlik wees, die regse sentiment het nie net verdwyn na 1994 nie. Daar is beslis nog van hulle wat nat drome droom oor die dae toe die Nasionaliste ons land soos ‘n kommunistiese staat regeer het (en heel ironies die Kommuniste as die Groot Gevaar aan ons uitgewys het). Ons het gewoon in ‘n land waar ons verbied is om iets te dink, of te lees, te kyk of te sê wat suur grys mannetjies in klam regeringsdepartementjies sou ontstel. Daai dae is vir ewig en altyd verby!

 

Maar omdat daar deesdae soveel korrupsie, onregverdigheid en misdaad in die land is, kaap die nuwe regses die gemoedelike misdaadmoeg mense se emosies deur die indruk te wek dat die "ou dae beter dae was". Dis hulle wat die DE LA REY-song omhels as ‘n volkslied.

 

Kom ek vertel vir julle die rede waarom hierdie liedjie so ongekend gewild geword het.

Waarom De La Rey deur alle Afrikaners se beenmurg vibreer

 

Marthinus van Schalkwyk.

 

Net daardie drie woorde. Dis reg.

 

Marthinus van Schalkwyk.

 

Toe die Labour Party in 1994 vir Tony Blair as leier verkies het, het hulle ‘n moerse kans gevat. Tony was nog redelik onbekend, baie jonk en was ‘n risiko as leier. Maar die waagstuk het gewerk en in 1997 was hy die nuwe Britse Premier.

Ons hier in die Suide volg eerder as wat ons lei. Ons is copycats. Met alles. Ook met politiek. Toe Tony Blair suksesvol verkies was, het die Nasionale Party die grootste fout denkbaar gemaak deur Marthinus in 1997 as nuwe leier te kies. Hulle het drome gehad van nog ‘n Blair-agtige flinke jong leier wat die Afrikaanse mense sou lei en na hulle belange sou omsien. Hulle het op looks gegaan eerder as guts.

Vinniger as wat jy kan sê "geldjie" word Martiens die Minister van Hoerisme en die Nasionale Party verdwyn in die diep blou AN-See. En nou's daar niks of niemand oor nie.

 

Die mense soos Pieter Mulder en Constand Viljoen het ‘n regse geurtjie wat baie Afrikaanses afsit. Want let’s face it – as daar nou ‘n nasie is wat eerder baklei as saamstaan – dan is dit ons klomp.

 

Die DA se Tony Leon is wel gemoedelik en vriendelik en intelligent, maar hy is nie regtig-egtig wat ons Afrikaanse mense soek nie.

 

Die liberale regdenkende beskaafde wêreldwyse Afrikaners het niemand om na op te kyk nie. Niemand om te veg vir hul regte nie. Niemand wat hulle kan vertrou om hul identiteit uit te straal nie. Watter slim witmens se kop staan inelkgeval politiek toe as jy ‘n groter kans staan om die Lotto te wen as om President te word?

 

Daar is beslis nog ideale om voor te baklei. Dis net die bakleiers wat ontbreek. Mens kan nie net staatmaak op ‘n Steve wat tussen konserte deur ‘n sub-ekonomiese monument onthul of teen ‘n verkragtingsaak gaan betoog nie. Steve is ‘n wit Nelson Mandela – hy word misbruik omdat sy teenwoordigheid altyd pers en mediadekking verseker. En Steve is after all ook ‘n entertainer wat hou van publisiteit. Maar omdat Martiens alles opgefork het kyk mense nou uit desperaatheid op na kunstenaars om die politieke probleme op te los. Iemand het al selfs vir my voorgestel as Minister van Opvoeding. Imagine….

 

Die BBC-program "How do you solve a problem like Maria?" het ‘n nuwe Maria gekies vir The Sound of Music in die Palladium. In Amerika kies hulle ‘n nuwe Danny en Sandy vir ‘n Broadway produksie van GREASE dmv die realiteits-program "You’re the one that I want".

Miskien is dit ook ons oplossing hier. Aangesien ons in any case copycats is. Wat van ‘n televisieprogram waarin ons ‘n nuwe oopkop Afrikaner leier kan kies wat vir ons sal veg sonder om terug te haper na bomme, gewere en die "goeie ou dae"?

 

Iemand wat onverskrokke sal veg teen misdaad en korrupsie.

Iemand wat ons weer kan verenig, herenig en trots maak op ons nasie .

En trots laat voel om in hierdie land te bly.

Teen R2.50 per sms!

 

Dis mos ‘n moerse goeie idee!

Wat 'n uitdaging!

 

Ek het selfs al ‘n titel vir die program:

"SAL JY  DIE BOERE KOM LEI?" 

 

 

Tot volgende keer!

Casper

 


 

home.jpg

Hierdie BBC program het die tipiese IDOL-talentshows in 'n nuwe rigting gestuur. Die publiek bel in en stem vir die aktriese wat hulle wil he die hoofrol in hierdie bekende musical moet speel. Ek het die wenner gesien in die nuwe produksie van The Sound of Music en sy was heel skaflik... (die gehoor was MAL oor haar want sy is after all deur hulle gekies en sy is dus as't ware "The people's Maria")

grease.jpg

Die NBC-televisieprogram "You're the one that I want"  soek 'n Danny en Sandy vir  'n nuwe GREASE aanbieding op Broadway. Hulle het gesien hoe goed die kaartjies vir The Sound of Music op die WestEnd verkoop het nadat die publiek vir "hulle" Maria gestem het, en het seker besef dat so 'n "talentejag"-program 'n wonderlike manier is om te verseker dat jou show se speelvak maande lank uitverkoop...

DLR.jpg

My beskeie voorstel vir 'n TV- talentprogram wat soek na 'n nuwe Afrikaner leier... As hy eers gekies is, sal mense hom op die hande dra omdat hulle sal voel hulle ken hom persoonlik. Wat praat ek van "hy" - dit kan natuurlik ook 'n "sy" wees wat ons kom lei! De la Sy, De la Sy...





Archives
July 2007 (1) | June 2007 (1) | May 2007 (1) | April 2007 (1) | March 2007 (1) | February 2007 (1) | January 2007 (1) | December 2006 (1) | November 2006 (1) | October 2006 (1) | September 2006 (1) | August 2006 (1) |